Resepte
Resepte


Verfresepte                 Resepte vir klei                 Ongebakte koekies                 Lekkers


Verfresepte


Vingerverf

Bestanddele:

1 pakkie plakpapiergom
'n bietjie minder as 2 liter warm water in 'n 2 literbottel poeierverf

Metode:

1. Gooi die plakpapiergom in die 2 literbottel.
2. Vul die bottel tot amper bo met warm water.
3. Skud tot die gom opgelos is.
4. Laat oornag staan.
5. Gooi soveel van die mengsel as wat vir elke kleur benodig word uit in verskillende houers.
6. Gooi omtrent 1 eetlepel poeierverf van verskillende kleure in die houers.
7. Meng dit goed in die gommengsel.
Dit vorm 'n dik pasta en is gereed vir gebruik.

Seepverf

Bestanddele:

1 koppie seepvlokkies
1/2 koppie water
poeierverf
blinkertjies (opsioneel)

Metode:

1. Klits die seepvlokkies en water met 'n eierklitser totdat dit soos styfgeklopte eierwit lyk.
2. Gooi die verf en blinkertjies by en klits weer.

Gesigverf

Bestanddele:

1 bottel goedkoop "aqueous" room
poeierverf

Metode:

1. Verdeel die room in kleiner houers.
2. Meng die verlangde kleure verf met die room.
Die verf was maklik af en beskadig glad nie die leerders se velletjies nie.


Resepte vir klei

Mammas en juffrouens se wen resepte wat hulle graag deel met ander ouers.


Ongekookte sagte soutklei

Bestanddele:

2 koppies koekmeel of broodmeel
1/2 koppie sout
1 eetlepel sonneblomolie
1/2 koppie water
koekkleursel

Metode:

1. Meng die water en sonneblomolie.
2. Roer die meel en sout in.
3. Knie tot brooddeeg.
4. Indien nodig, voeg nog water by.
5. Voeg die koekkleursel by.
6. Knie tot die kleur deeglik ingemeng is.
Bere in 'n plastieksakkie of plastiekbakkie om die klei sag te hou.

Ongekookte sagte soutklei wat later kliphard word

Bestanddele:

2 koppies meel
2 koppies sout
2 teelepels aluin

Metode:

1. Meng alles saam.
2. Voeg kort-kort 'n bietjie water by tot die mengsel nie meer aan die hande vasklou nie.

Speelklei

Bestanddele:

500 ml (2 k) meel
500 ml (2 k) water
30 ml (2 e) olie
30 ml (2 e) olie
500 ml (2 k) sout
20 ml (4 t) kremetart
5 tot 10 ml (1-2 t) oranje of bruin voedselkleursel
mediumgrootte kastrol

Metode:

1. Meng al die bestanddele in 'n kastrol
2. Kook oor medium hitte vir 5 minute tot die mengsel styf is.

Seeppasta vir modellering

Bestanddele:

2 koppies seeppoeier
1/2 koppie warm water
poeierverf

Metode:

1. Gooi warm water by die seep en klits die mengsel met 'n elektriese klitser tot styf.
2. Voeg verf by vir kleur en klits weer.

BELANGRIK: Die kinders moet hulle hande in warm water doop voor hulle met hierdie mengsel modelleer.

Gewone dun gom vir klasgebruik

Bestanddele:

1 teelepel koekmeel
2 teelepels mielieblom
1/4 teelepel aluin
omtrent 1/2 koppie water

Metode:

1. Meng die droeë bestanddele.
2. Voeg die water stadig by en roer sodat dit nie klonte vorm nie.
3. Kok oor baie lae hitte af as die mengsel begin verdik en laat dit afkoel.
Die mengsel word self dikker as dit afkoel.


Ongebakte koekies


Vlakoekies (gebak of ongebak)

Bestanddele:

2 koppies koekmeel
1/2 koppie versiersuiker
1/2 koppie vlapoeier
1 koppie sagte margarien

Metode:

1. Meng alles saam.
2. Die deeg kan rou of gaar geëet word.

Ongebakte sjokoladekoekies

Bestanddele:

1/2 koppie melk
1/2 koppie kakao
1 koppie botter
2 koppies suiker
1 koppie hawermout
1 koppie klapper

Metode:

1. Kook die melk, kakao, botter en suiker vir 5 minute vandat dit begin borrel.
2. Meng die res van die bestanddele in terwyl die mengsel nog warm is.
3. Die deeg is gereed om te gebruik.

Koffiekoekies

Bestanddele:

1 pakkie Mariebeskuitjies
1 koppie versiersuiker
1/2 koppie botter
3 teelepels kitskoffie
1 eier

Metode:

1. Meng die versiersuiker en botter met 'n houtlepel.
2. Voeg die koffie by en meng goed.
3. Klits die eiers en voeg dit ook by.
4. Vir 'n gladde deeg word die beskuitjies gekrummel, vir 'n growwe deeg in stukkies gebreek.
5. Voeg die gebreekte/gekrummelde beskuitjies by die koffie- en eiermengsel.

Laat die deeg in 'n yskas styf word of eet dit dadelik.


Lekkers


Kondensmelklekkers

Bestanddele:

1 koppie kondensmelk
4 koppies versiersuiker
1 koppie klapper
koekkleursel

Metode:

1. Meng alles behalwe die koekkleursel saam tot daar geen klonte is nie.
2. Verdeel die mengsel in kleiner dele en drup verskillende kleure kleursel in elke bakkie.
3. Meng tot die kleursel egalig deur die deeg versprei het.

Kitspoedinglekkers

Bestanddele:

1 pakkie kitspoeding
2 koppies versiersuiker
3 eetlepels melk
1 eetlepel suurlemoensap
1/4 koppie margarien

Metode:

1. Meng die kitspoeding en versiersuiker.
2. Voeg die melk, suurlemoensap en margarien by.
3. Knie tot alles goed gemeng is.
Die deeg is nou gereed vir die kinders se gebruik.
Laat staan dit vir 30 minute in 'n koel plek om hard te word.

Kitslekkers

Bestanddele:

1 pakkie Mariebeskuitjies
1 blikkie kondensmelk
'n pakkie klapper
'n bietjie meel

Metode:

1. Rol die beskuitjies fyn met 'n koekroller/bottel.
2. Gooi die kondensmelk uit in 'n groterige houer.
3. Roer die fyn beskuitjies in die kondensmelk in.
4. Vorm balletjies en rol die balletjies in die klapper.



" Na Bo "

KOPIEREG 2009-2023 KLEUTERS. ALLE REGTE VOORBEHOU.