Afrikaanse Kinderrympies vir Kleuters

Afrikaanse kinderrympies is 'n wonderlike manier om taalontwikkeling, woordeskat, geheue en luistervaardighede by kleuters te stimuleer.
Deur rympies te sing en op te sê, leer kinders nuwe woorde, klanke en ritmes. Dit help ook met uitspraak, konsentrasie en die ontwikkeling van 'n liefde vir Afrikaans.

My Afrikaanse Rympieboek - 'n Versameling vrolike rympies vir klein maatjies

My eerste rympie-woordeboek

'n Eerste tematiese, tweetalige geillustreerde kinderwoordeboek in volkleur.
  • Vrolike rympies ondersteun bekende temas.
  • Liggaamsdele, kleure en vorms, aktiwiteite en syfers vul die temas aan.
  • Direkte assosiasie tussen voorwerp en woord.

Rympies vir pikkies en peuters

Min mammas en pappas is bewus daarvan dat kleuterrympies 'n geweldige belangrike bousteen in hul kleuter se taalkundige en emosionele ontwikkeling vorm. Kenners oor leesvaardigheid en kinderontwikkeling het bevind dat kinders wat op vierjarige ouderdom minstens agt kleuterrympies kan opsê, op agtjarige ouderdom gewoonlik van die beste lesers in hul ouderdomsgroep is.

Hoekom is kinderrympies belangrik?

Kinderrympies help met:
  • Taalontwikkeling: Kinders leer nuwe woorde en sinsbou.
  • Geheue: Herhaling help kinders om woorde te onthou.
  • Ritme: Kinders leer om klanke en bewegings te koördineer.
  • Luistervaardighede: Hulle leer om aandagtig te luister.
  • Grootmotoriese ontwikkeling: Spring, draai en dans stimuleer beweging.
  • Sosiale ontwikkeling: Saam sing en rympies opsê bevorder groepsdeelname.
  • Selfvertroue: Kinders geniet dit om rympies self voor te dra.

Aktiwiteite rondom kinderrympies

  • Laat jou kleuter 'n prentjie teken van sy of haar gunstelingrympie.
  • Maak dierevingerpoppe en voer die rympies op.
  • Gebruik musiekinstrumente om ritme te maak.
  • Laat kinders die laaste woord van elke rymreël voltooi.
  • Speel 'n raaispeletjie waar kinders die dier uit die rympie moet uitbeeld.

'n Versameling Afrikaanse kinderrympies

Ontdek en geniet 'n verskeidenheid geliefde Afrikaanse kinderrympies saam met jou kleuter! Sê die rympies hardop op, sing dit saam, klap hande en maak prettige bewegings. So word taalontwikkeling, woordeskat, geheue en luistervaardighede op 'n lekker speelse manier gestimuleer. Kom ons hou ons pragtige Afrikaanse kinderrympies lewendig!

1. Apie op 'n stokkie

Daar's 'n apie op 'n stokkie
voor my ma se agterdeur,
daar's 'n gaatjie in sy broekie
en sy stertjie loer daardeur.

2. Raaiselrympie

So groen soos gras,
so wit soos was,
so rooi soos bloed
so suikersoet!

Wat is ek? ('n Waterlemoen)

3. Skoon hande

Hier is nou iets wat ek moet leer:
my hande was ek elke keer
net voor ek eet; dit is gesond
so bly die kieme uit my mond.

(Elizabeth Snyman)

4. Spreukryme

  • Al dra 'n aap 'n goue ring, hy bly tog maar 'n lelike ding.
  • Hy is nes 'n volstruis, waar hy kom is hy tuis.
  • Van die hand tot die mond, val die pap op die grond.

5. Stukkend

Kyk hoe lyk my motortjies
almal het alreeds gebreek!
Pappa sê my speelgoedjies
hou nie langer as 'n week.

(Elizabeth Snyman)

6. Swart skaap

Swart skaap, swart skaap,
het jy baie wol?
Ja baas, ja baas,
drie sakke vol.
Een vir die nooi,
en een vir die baas,
en een vir die seuntjie wat so baie kan raas.

7. Tien klein paddatjies

Tien klein paddatjies kom sit in 'n kring,
bring julle boekies en laat ons sing.
Maak julle bekkies wawyd oop
en sing vir my so soet soos stroop.
Kwak-kwak-kwak,
Kwek-kwek-kwek,
Tien klein paddatjies maak my gek!

(W. D. Bosman)

8. Trein ry

Sakke, pakke,
sout en peper;
gee my stoom
dan loop ek beter!

(Pieter W. Grobbelaar)

9. Vingerling

Duimpie het in die water geval,
Lekkerpot het hom uitgehaal,
Langeraad het hom huis toe gedra,
Fielavlooi het hom neergelê
en Pinkie het vir Ma gaan sê.

(D. J. Opperman)

10. Wippie en Snippie

Wippie en Snippie loer uit 'n gaatjie,
Wip is 'n muisie en Snip is sy maatjie.
Wippie en Snippie daar kom die groot kat,
Woeps spring die twee muisies weer terug in die gat.