Kinders leer beter na lê-oefeninge
Kinders leer beter na lê-oefeninge


Tien minute se eenvoudige oefeninge per dag kan 'n groot verbetering in klein kinders se konsentrasievermoë teweegbring.

Personeellede van die onafhanklike Crawford-skole is verstom oor die resultate van 'n program van die Britse instituut vir neuro-fisiologiese sielkunde (INPP) wat in hul skole begin is.

Kinders is rustiger, konsentreer beter en hul skoolwerk het verbeter, sê hulle.

Gr. 0- tot gr. 3-leerlinge voer elke dag 'n program van INPP-bewegings uit en die vier- en vyfjariges voer al spelende van die oefeninge uit.

Benewens die voorkomende program word INPP-beginsels ook gebruik as individuele terapie vir kinders met spesifieke probleme.

Mnr. Jopie Maasdam, hoof van Crawford Fourways Preparatory in Fourways, sê die INPP-program het sommige kinders soveel gehelp dat hulle nou minder of geen medisyne hoef te gebruik nie om hulle rustig te maak.

Volgens Maasdam is ouers, onderwysers en terapeute verstom oor die verskil wat die program maak.

Sy skool het 'n paar jaar gelede begin worstel met die kwessie dat sommige intelligente kinders nie akademies presteer nie.

Mev. Amy Goodlace, lid van die Crawford-groep se akademiese span, het aanhou navorsing doen en uiteindelik by die INPP gaan studeer.

Sy is nou die enigste INPP-lisensiehouer en -opleier in Suid-Afrika.

Sy het Crawford se onderwysers opgelei om basiese assesserings te kan uitvoer en die bewegingsprogram met kinders te kan uitvoer.

Goodlace, wat hartstogtelik daaroor is om kinders te help, sê dit duur net 'n dag om onderwysers in die basiese beginsels van die program op te lei.

En skole hoef nie duur toerusting te hê nie, want al wat nodig is, is 'n stukkie vloer waar kinders byvoorbeeld kan lê om die oefeninge te doen.

Een van die eerste oefeninge is Christopher Caterpillar, waar kinders op die maag lê en hul koppe moet lig.

Omdat kinders deesdae te lank in motorstoeltjies sit, nie genoeg beweeg en speel nie en te lank voor die televisie sit, toon baie van hulle sulke reflekse pleks van postuurreflekse wat hulle mettertyd in die plek van primitiewe reflekse moes aanleer.

Postuurreflekse maak hulle skoolgereed en sorg dat hulle beheer het oor hul balans, postuur en koördinasie.

Volgens die INPP se webblad is van die moontlike simptome wat kan wys daar is 'n vertraging in 'n kind se breinontwikkeling as die kind sukkel om te leer fietsry of swem, nie kan stilsit of stilbly nie en sukkel om na lopende skrif oor te gaan.

Lees meer by www.inpp.org.uk of www.crawfordschools.co.za.

(geskryf deur Carien Kruger in Rapport)

KOPIEREG 2009-2024 KLEUTERS. ALLE REGTE VOORBEHOU.