Sport
Sport


       

       



Gimnastiek   Golf   Karate Krieket

Netbal   Rugby   Sokker   Tennis


Tyd vir sport(s)

DAAR'S 'n HELE rits dinge wat 'n mens in ag moet neem voor jy 'n buitemuurse bedrywigheid vir jou kind kies, sê dr. Annalize Green, opvoedkundige sielkundige van Pretoria. Jy moet kyk na sake soos sy huidige program en beskikbare tyd, sy ontwikkelingsvlak, persoonlikheid, dit wat bereik wil word met die program, asook praktiese dinge soos jou beursie. Wees egter versigtig dat jou graad 1'tjie nie aan te veel goed deelneem nie. "Die klem moet wees op balans," sê Annalize. Buitemuurse aktiwiteite gee jou kind die geleentheid om nuwe vaardighede te bemeester en sukses te behaal, sê sy. "Hy kry die kans om vertroue in sy vermoëns op te bou en leer dat sy insette sukses teweeg kan bring. Selfdissipline word ook gekweek. "Daarby leer jou kind volharding omdat hy iets dikwels oor en oor moet doen voor hy dit bemeester. Hy leer getrouheid, aangesien klasse gereeld bygewoon moet word en hy nie sommer met die eerste struikelblok kan ophou nie." Jou kind kry die geleentheid om sy sosiale vaardighede te ontwikkel wanneer hy informeel met sy portuurgroep omgaan, en hy leer sy emosionele en fisieke sterk punte ontdek en ontwikkel. Sportdeelname gee jou kind die geleentheid om te leer dat hy nie altyd die beste is nie en dat dit nie saak maak nie, want deelname gaan daaroor dat hy net sy beste in die gegewe omstandighede moet lewer, sê Annalize. "Hy leer wen en verloor en met die korrekte leiding kan hy leer om suksesse met nederigheid te hanteer, en mislukkings of foute as leergeleenthede." Daarby is dit in die lig van toenemende vetsug by kinders belangrik dat hulle aan fisieke aktiwiteite deelneem en 'n gesonde leefstyl vestig, sê Anquanette Peens, 'n kinderkinetikus van die Noordwes-universiteit.

Net vir pret
In graad 1 behoort 'n kind nog net vir die pret aan aktiwiteite deel te neem en nie om te spesialiseer nie. "Die klem moet wees op deelname en nie prestasie nie," sê Anquanette. "Selfs met karate en ballet moet kinders deelneem om hulle oefening te gee en hul fisieke vermoë te verbeter, en nie met die oog op vordering na 'n volgende vlak nie." Volgens haar is dit uiters belangrik dat jou graad 1'tjie se eerste kennismaking met 'n sport lekker is sodat die basis gelê word vir lewenslange deelname. "As jy te veel druk op jou kind plaas om te presteer, kan hy belangstelling verloor en hom vir die res van sy lewe onttrek van enige vorm van fisieke aktiwiteit."

Speel jy tennis, Dennis?
Tennis oefen al jou kind se groot spiergroepe, sê Anquanette. Sy beenspiere kry oefening terwyl hy van punt A na punt B hardloop, en sy skouergordel en handgreepkrag word geoefen terwyl hy die raket beheer en die bal slaan. Dit oefen ratsheid en reaksiespoed omdat jou kind vinnig van rigting moet kan verander sonder om sy balans te verloor. Sy algehele koördinasie kry ook 'n hupstoot omdat sy hele lyfie moet saamwerk om 'n hou te slaan. Hand-oog-koördinasie word ontwikkel en jou kind se perifere visie die vermoë om voor hom te kyk maar ook buite sy gesigsveld waar te neem kry ook goeie oefening. Dit sal hom later help in enige sport waaraan hy deelneem. Jou kind leer daarby konsentreer en sy selfbeeld kan floreer namate sy vaardighede verbeter. Nommerpas vir: ywerige, perfeksionistiese kinders. Pluspunt: Dis 'n lekker sosiale sport wat julle as gesin saam kan beoefen. Wenk: As jy 'n raket wil aanskaf, gesels eers met jou kind se tennisafrigter. Die regte raket sal 'n korter steel hê as 'n gewone raket, gemaklik in jou kind se hand pas en nie te swaar wees nie.

Jackie Chang se moses
Karate is 'n baie intense sport wat jou kind se hele spierstelsel ontwikkel, sê Anquanette. "Daar's definitief ongelooflike fisieke ontwikkeling by kinders wat aan karate deelneem." Karate verbeter soepelheid en spierkrag oor die hele lyfie, en oefen balans aangesien die liggaam vir 'n aantal sekondes in dieselfde posisie gehou moet word. Dis uitstekend vir voet-oog-koördinasie. Nog voordele is ratsheid en algehele liggaamskoördinasie. Karate leer jou kind ook selfbeheersing en kan hom help om beter te fokus en konsentreer. En dit leer jou kind dissipline en maniere! Nommerpas vir: dromers of besige mannetjies wat sukkel om hul aandag op een plek te bepaal. Pluspunt: Al ooit gesien hoe oulik lyk jou japsnoet in sy reuse karatepak? Wenk: Verras jou kind met jou karate-terminologie: 'n Kata is 'n vaste reeks bewegings wat jou kind moet inoefen. Kumute is om te veg.

Nina Ballerina
Ballet is 'n uitstekende keuse graad 1'tjies, sê Anquanette. "Dis goeie ontwikkeling vir jou kind se hele lyf." Ballet ontwikkel soepelheid, balans, liggaamskoördinasie en krag. Dit leer jou kind ritme en oefen haar ouditiewe geheue sodat sy kan onthou wat sy gehoor het. Sy leer ook tussenklanke onderskei en om verskillende soorte musiek deur haar lyfie te interpreteer. Boonop sal jou dogtertjie ballet vreeslik geniet en dit sal haar selfvertroue en selfbeeld 'n hupstoot gee, veral omdat dit nie regstreeks kompeterend is nie en elke kind individueel deelneem en vorder. Nommerpas vir: introverte kinders Pluspunt: Jou kind ontwikkel 'n pragtige postuur en daar's die lekkerte van balletkonserte. Wenk: Moenie jou kind se hare was in die week voor sy balleteksamen doen nie. Dis moeiliker om skoon hare in 'n bolla te kam en haar hare word in elk geval gejel.

Drama queen
Drama is 'n skitterende opsie vir jou graad 1'tjie en moedig 'n liefde vir letterkunde en poësie aan, terwyl sy taal ook ontwikkel, sê Annalize. Boonop is dit 'n uitstekende manier om te leer om sy gevoelens uit te druk. Hy leer ook om met vrymoedigheid voor ander op te tree en op sy voete te dink, sy selfvertroue neem toe en hy leer ander leefwêrelde ervaar. Nommerpas vir: kreatiewe kinders met 'n ryk verbeelding. Pluspunt: Jou kind kan dalk eendag 'n sepiester word! Wenk: Waak teen prestasiedruk of afrigting wat jou kind se eie inisiatief en styl smoor. Moet jou kind ook nie dwing om in die openbaar op te tree voor hy gereed daarvoor is nie.

Bakker van potte
Pottebakkery is uitstekend vir graad 1'tjies se fynhandspierontwikkeling en kreatiwiteit, sê pottebakker Bessie Coetzee van Nelspruit. In haar ervaring baat dit kinders wat met handskrif sukkel. Hulle leer om vryhand te werk en die klei tot 'n unieke vorm te manipuleer, maar kan ook op die pottebakkerswiel potte vorm en dit self glasuur. Nommerpas vir: ontspanne, kreatiewe kinders. Pluspunt: Jy kan gereeld geskenkies kry wat hy self vir jou gemaak het!

Of wat van ...
Kooklesse: Jou kind leer nie net kook nie, maar oefen alles van sy wiskundige vaardighede tot taalontwikkeling. Dis ideaal vir kinders wat daarvan hou om volgens 'n resep te werk, te eksperimenteer of 'n vinnige eindresultaat te sien.
Perdry: Goed vir jou kind se balans, spiertonus en boonop terapeuties! Nommerpas vir diereliefhebbers en kinders met gestremdhede en leer- en gedragsprobleme.
Skaak: Onverbeterlik vir die ontwikkeling van jou kind se wiskundige vaardighede, probleemoplossingsvermoë en konsentrasie. Ideaal vir denkers en vooruitbeplanners.
Kunsklasse: Oefen jou kind se visuele vaardighede, fyn handspiertjies en kreatiwiteit. Dis nommerpas vir kreatiewe kinders of kinders wat moet leer om meer kreatief te dink.
Gimnastiek: As dit kom by fisieke ontwikkeling, waarskynlik een van jou heel beste keuses. Geskik vir waaghalsige kinders!

Wennerwenk
Moenie 'n aktiwiteit kies net omdat jou kind goed daarmee is nie, maar kies dit soms juis om jou kind die kans te gee om 'n nuwe vaardigheid te ontgin.
As jou kind met 'n aktiwiteit begin, laat hom daarmee volhard vir so lank as wat jy en hy ooreengekom het.

[Uit: Baba en Kleuter April 2008]

       



       

Fyn motoriese oefeninge





         



       

       




                   

Snap kaarte

                   

                   


" Na Bo "


KOPIEREG 2009-2024 KLEUTERS. ALLE REGTE VOORBEHOU.