Kinders met leerprobleme is nie noodwendig aandagafleibaar nie.
Kinders met leerprobleme is nie noodwendig aandagafleibaar nie.


Die definisie vir aandagafleibaarheid is die onvermoë om vir 'n bepaalde tyd stil te sit, aandag te skenk, te konsentreer en te fokus.

Daar is drie soorte aandagafleibaarheid te wete:
Aandagafleibaarheid (die dromer),
Aandagafleibaarheid met hiperaktiwiteit (speel waar engeltjies dit nie sal waag nie) en 'n kombinasie van genoemde. Die oorsake van aandagafleibaarheid is ook bekend en is geneties, (oorerflik) waar gewoonlik een of albei die ouers of selfs 'n familielid/-lede ook aandagafleibaar is. Die bestaan van 'n chemiese wanbalans in die brein ten opsigte van die werking van die oordragstowwe. Die totale wese van die kind dra en openbaar eienskappe van aandagafleibaarheid en spesifiek die uitvoerende funksie van die brein: kognitief (denke en idees), konatief (doelgerigte en willekeurige gedrag en impuls om op te tree), affektief (emosioneel), groot- en fynmotories.

Hierdie kinders gee nie aandag aan detail nie en maak onnodige foute. Het 'n onvermoë tot volgehoue aandag en konsentrasie. Luister nie wanneer daar direk met hom/haar gepraat word nie en maak ook nie oogkontak nie. Voltooi nie 'n opdrag. Onvermoë om take/aktiwiteite te organiseer. Vermy take/aktiwiteite wat volgehoue aandag vereis. Verloor besittings.

Ander simptome wat hierdie kinders openbaar sluit in: 'n Onversadigbaar: bv om nie te weet wanneer om te stop nie, knaend. Terggees. Doen vòòr dink, dus impulsief. Swak en onrustige slaapgewoontes. Sosiale lompheid en kan nie lyftaal "lees" nie. Verstaan nie gesigsuitdrukkings nie. Baasspelerig. Dwing eie wil af op ander en is dominerend. Al bogenoemde kan dus bydra dat hierdie kinders leerprobleme ervaar as gevolg van hulle samestellinge en gedrag.

Leerprobleme (leergeremdheid) aan die ander kant word gedefinieër as probleme wat die kind se skolastiese prestasie oor die algemeen beïnvloed. Leergeremdheid hou die moontlikheid in van opheffing aangesien dit daardie kind is wat onderpresteer. Faktore wat tot leergeremdheid aanleiding gee is hoofsaaklik ekstern van aard en sluit in omgewingsfaktore, gebrekkige stimulering, verhoudings met maats (emosioneel) en met onderwysers, ouers wat negatief is teenoor skool, afwesigheid van skool en emosionele probleme soos lae selfbeeld, motivering en mislukkings.

Leerprobleme kan voorkom word indien die waarde van opvoedkundige speelgoed, liggaamlike beweging en kommunikasie besef word. Bogenoemde is dus die perseptuele (waarnemings met al vyf sintuie) vaardighede wat (op 'n natuurlike wyse) aangeleer word. Hierdie vaardighede is 'n voorvereiste vir leer. Vaardighede wat noodsaaklik is, is kleurkonstantheid, vormkonstantheid, liggaamsbewustheid, visuele diskriminasie, - voorgrond en agtergrond, -groepering, -sluiting, analise en sintese, rigtingsin, grootte-konstantheid, diepte en afstand, ruimtelike oriëntasie en verhoudings, opeenvolging en assossiasie. Daarmee saam gaan visuele - en ouditiewe geheue. Getalbegrip vereis groepering, afparing en ontbinding.

Kinders wat leesprobleme ervaar beskik dus nie oor genoegsame vermoë om visueel- en ouditief te onderskei tussen vorms (dws die raaksien en/of hoor én vertolking van ooreenskomste en verskille) nie. Die sien- en denkgebeure waarvolgens geheelbeelde van wat gesien word, ontleed word sodat bepaal kan word wat die afsonderlike en verbandhoudende elemente is. 'n Woord as 'n geheelbeeld, is in verbandhoudende of afsonderlike letters gegroepeer bv. In lettergrepe of in enkelsimbole. Weer, die sien- en denkgebeure waarvolgens elemente saamhoort tot 'n sinvolle eenheid gegroepeer kan word, waar vertolking gegee en integrering gedoen kan word soos wanneer 'n woord geklank word en in sy geheel gelees word. Lees, spel en wiskunde vereis visuele diskriminasie, geheue, volgorde en ruimtelike plasing. Dit is alles voorvereistes vir leer wat die raaksien, onthou en terugroep van die presiese volgorde waarin 'n reeks voorwerpe, simbole of strukture gesien is.

Om leergeremdheid te voorkom behoort ouers daardie opvoedkundige speelgoed wat aangekoop is, te benut. Kinders leer perseptuele vaardighede deur speletjies soos legkaarte, domino's, lego, boublokke, slangetjie en leertjie en ander vorme van bordspeletjies, geheuekaarte, verskille te identifiseer tussen twee prente, sortering van voorwerpe wat bymekaar pas (skoen en kous, mes en vurk), ens. Ouers wat nie sulke speelgoed aankoop nie, kan gerus aktiwiteitboeke (inkleur en aktiwiteit-) aankoop waarin 'n legio werkkaarte is. Voorts behoort ouers meer met hulle kinders te kommunikeer werklik gesprekke te voer en tydens hierdie gesprekvoering sinonieme te gebruik, dit is alreeds woordeskatuitbreiding (selfs vir die ouers!).

Die feit dat daar jaarliks statistieke voorgehou word dat Suid-Afrikaanse kinders nie wiskundig-, spel- en leesvaardig is nie, kan beslis verlaag indien daar van vroeg af aandag aan veral perseptuele vaardighede gegee word.

(geskryf deur Laetitia Ludwick)



" Na Bo "


KOPIEREG 2009-2024 KLEUTERS. ALLE REGTE VOORBEHOU.